top of page

Ons rekenaarklasse

​

Rekenaargeletterdheid gaan oor meer as net toeps (apps) en speletjies alhoewel daar natuurlik vir beide ‘n plek in tegnologiegebruik bestaan.

 

By Fonteine is leerlinge bevoorreg om reeds van graad een af aan die rekenaar blootgestel te word. Basiese sleutelbord- en muisvaardighede is ‘n baie belangrike komponent in die grondslagfase nadat hierdie klein mensies geleer het uit watter dele ‘n rekenaar bestaan.  Om hierdie vaardighede in te oefen werk hulle in programme wat hulle wiskunde- en taalvernuf verbeter.

 

In graad vier word leerlinge die eerste keer blootgestel aan Microsoft Office. Hulle leer speel-speel vaardighede wat hulle lewenslank sal kan gebruik.

 

Woordverwerking word maklik geïntegreer met lesse en gebeurtenisse wat in die skool as geheel plaasvind sodat die praktiese toepassing sin maak in hulle lewens. Hulle is nie volwaardige tikster teen graad sewe nie, maar kan netjiese basiese dokumente skep met die verskillende Word-fasiliteite tot hulle beskikking.

 

‘n Bietjie Power Point is ‘n prettige afwisseling en hulle geniet dit terdeë om onder andere animasie te leer en hulle eie eenvoudige “films” te maak.

 

Sigbladverwerking is die mees gekompliseerde pakket wat hulle poog om te bemeester en dit spesifiek teen die einde van graad sewe aangesien die struktuur daarvan nogal uitdagend kan wees.

 

Om hulle belangstelling in programmering te prikkel werk hulle ook tussendeur aan Scratch, ‘n program wat hulle blootstel en die struktuur van ‘n programmeringstaal het. Dit voel soos speel, maar behels in werklikheid die aanleer van ‘n nuwe taal terwyl dit terselfdertyd probleemoplossingsvaardighede ontwikkel.

 

Rekenaargeletterdheid, toekomsgerigte vaardighede vir ‘n moderne samelewing.

bottom of page